ONS VERHAAL
Op 25 Maart 2007 is die Afrikaanse Protestantse Kerk Kimberley Die Kruis gemeente gestig. Dit is die tweede Afrikaanse Protestantse Kerk in Kimberley.
Daardie maand, tussen die stigtingsvergadering en die eerste diens, was vir my persoonlik ‘n onseker tyd, waar ek myself telkens moes herinner dat dit waarmee ons besig was, die Here se roeping is, en dat Hy getrou is. Hy sou voorsien! Ons was nie seker oor hoeveel mense sou opdaag vir daardie eerste diens nie; ons was nie seker oor hoe ons finansies sou lyk en of ek volle salaris sou kon ontvang nie; ons was nie seker of ons lewensvatbaar sou wees nie! Ons het ‘n klein dagbestuur gehad. Met hulle het ek die visie gedeel wat die Here vir my gegee het: dat hierdie gemeente nie ter wille van haarself moet bestaan nie, maar sodat die Evangelie verkondig en die armes versorg moet word. Ons het ‘n beginselbesluit geneem dat van alle fondse wat ons gemeente inkry, 25% aan sending en barmhartigheid spandeer moet word. Van daardie eerste maand af tot op hede word hierdie 25% eenkant gesit en “weggegee” sodat ons lig en sout in die wêreld kan wees.
Nege dae voor daardie eerste diens, kry ek die oggend in my gewone stiltetyd Jesaja 49:19 : “Jy is nou nog net puinhoop en ruïne, ‘n verwoeste plek, maar jy sal te klein word vir jou inwoners, en die wat jou afgebreek het sal verdwyn. Kinders wat jy nou nie het nie, sal nog in jou ore kom kerm en sê: Die plek is te klein vir ons! Maak vir ons plek om in te woon.” Vir my was dit ‘n bevestiging dat dit die Here se roeping en sy “probleem” is, waaroor ek my nie hoef te bekommer nie. Hy sou voorsien! In retrospeksie is dit wonderlik om te sien hoe die profesie van hierdie teks jaar-na-jaar in vervulling gegaan het. Tot so ‘n mate dat die bouwerk nooit afgehandel word nie. Daar moet voortdurend nuwe planne gemaak word en selfs aangebou word om aan ons groeiende kindergetalle se behoefte te voorsien. Wat ‘n wonderlike “probleem” om op te los!
Ons gemeente het begin met eredienste op 22 April 2007 in die ACVV saal in Longstraat. Hier het ons vir twee jaar eredienste en selfs basaar gehou. Daarna het ons na die NJ Heyns Skoolsaal in McDougalstraat getrek vir die volgende 5 jaar.
Op 13 September 2010 (op die dag en datum, presies 4 jaar nadat ek die stem van die Here vir die eerste keer oor ‘n nuwe gemeente gehoor het), word die eerste staalkolomme van die kerkgebou opgerig. Dit was nie so beplan nie. Dit was “maar net” die datum waarop die kontrakteurs dit kom doen het. Tog was dit vir my baie simbolies!
Op 12 Oktober 2014 betrek ons ons nuwe kerkgebou en word die eerste erediens gehou. Die aanbouings gaan voort met die jare soos wat fondsinsamelings projekte gehou word.
Alles wat op die kerkterrein gesien word, is een groot wonderwerk! As ‘n mens vorentoe kyk en aan alles dink wat nog gedoen moet word, voel dit asof alles te stadig gebeur. As jy egter terugkyk, sien jy wat alles in ‘n baie kort tyd gebeur het, en staan jy dankbaar oor die genade van die Here en vir alles wat voorsien is!
Ek is seker dat ‘n gemeente wat gehoorsaam is aan die Here se roeping vir daardie gemeente, altyd in hulle behoeftes deur die Here versorg sal word. Matteus 6:31 sê dat as ons eers die koninkryk van God soek en aan Hom gehoorsaam is, Hy ook vir ons al die dinge sal gee wat ons elke dag nodig het.
As die gemeente al die geld wat al aan barmhartigheid en sending bestee is, in bouwerk bestee het, sou ons dalk al meer geboue gehad het, maar baie armer gewees het aan ons gehoorsaamheid. Wie weet, miskien sou ons dan selfs minder geboue gehad het, omdat ons ongehoorsaam aan die Here se roeping sou wees?
VISIE VORENTOE
Of jy die heel eerste diens in die ACVV bygewoon het, en of jy “deur die jare” ‘n lidmaat van hierdie gemeente geword het: dit is ewe wonderlik. Die Here gebruik sommige mense om te plant, ander om te vestig, nog ander om te laat groei en vrugte te dra en ander om sy kerk verder uit te brei. Dis wonderlik dat ons nie net enkele mense het wat dink dat die kerk aan hulle behoort nie! Dis ook goed dat die kerk nie net deur enkelinge se bydraes gebou word nie, maar dat elke lidmaat se bydrae ‘n reuse verskil maak.
SLOTOPMERKING
Die profesie van Jesaja 49:19 gaan steeds in vervulling: Ons moes al ‘n paar keer stoele bykoop en ons jeugklasse is al weer te klein vir die hoeveelheid kinders wat Sondae daar byeenkom. Dis wonderlik om deel van hierdie Kerk van die Here Jesus te wees. Mag jy ook hier jou roeping saam met ons uitleef in gehoorsaamheid en diensbaarheid!
Mag ons elke jaar terugkyk en in nog groter verwondering staan oor God se genade en voorsiening aan sy Kerk.
AAN GOD ALLEEN DIE EER!!!
Ds. Danilo Stoltz
Ontmoet Ons Span





